- Tuis
- Oor Ons
- Wat Ons Bied
- Publikasie
- Galery
- Kontak Ons
ALGEMENE INLIGTING
Koshuislewe is gewoonlik sinoniem met jiggie kos en dodelike roetine, maar beslis nie in Voortrekker se koshuis nie! Ons koshuis is ons trots: hier woon en werk ons almal gelukkig saam; ons eet huiskos; roetine leer ons onafhanklikheid en selfdissipline.
Kontak mnr. Natius Labuschagne by 083 384 1450 vir enige navrae oor die koshuis.
Aansoekvorms vir toelating tot die koshuis is by die skool beskikbaar.
CCTV: Daar is geslotebaan-televisiekameras in al die seunsgange, dogtersgange, eetsaal, voorportaal en by die die trappe wat toegang verleen tot die dogterkant.
NAWEKE: Geen leerder mag naweke inbly, of die koshuis betree nie. Gedurende die wintersportseisoen mag leerders wel, teen addisionele betaling, Vrydagaande inbly.
RYKLUB: Die koshuis beskik oor ‘n ryklub. Die diens is van Maandag tot Donderdag vanaf direk na skool tot 18:00 beskikbaar. Vir verdere besonderhede en tariewe, skakel met die huisvader.
TRADISIES
Voortrekker-koshuis is ryk aan tradisies.
KOSHUISBRAAI: Hierdie geleentheid word jaarliks aangebied deur die koshuiskomitee, wat bestaan uit ouerverteenwoordigers van elke dorp waarvandaan kosgangers kom – ook iets uniek aan ons koshuis. Terselfdertyd vind ons jaarlikse GANGKOMPETISIE tydens die koshuisbraai plaas. Gange word deur HK-lede en hul ouers opgeknap en daarom is Voortrekker-koshuis een van die mooistes in die land!
GROENWURMKONSERT: Die oriëntering wat wel plaasvind om graad 8’s by die koshuislewe te laat inskakel – hulle deel te maak van die Voortrekker-familie – eindig by die graad 8’s se wurmkonsert. Tot dan dra die graad 8-dogters in die koshuis “pampoenrokke” en voortrekkerkappies en die seuns wit “help-my-sterk-lyk”-hempies en PT-broeke. Die graad 8-dogters hou ook ‘n ‘Moedersdag’ vir die matrieks.
WOENSDAE: Woensdag is dorpdag en boonop is daar Woensdae heerlike hamburgers en skyfies op die spyskaart. Ons kos is altyd baie lekker!
KOSHUIS-SOCIAL: Dit is ‘n spog sosiale geleentheid in die tweede helfte van die jaar, wat slegs deur die skool se matriekafskeid in styl oortref word. Dorpskinders wat ‘n ‘skiet’ na die Social kry, is beslis bevoorreg! In tye van akademiese rustigheid vind daar soms spontaan ‘n koshuissokkie in die studiesaal plaas.
STILTETYD: Ons kerjakker egter nie net gedurig nie. Behalwe elkeen se individuele stiltetyd, hou die meisies een maal per week in hulle onderskeie gange saam Bybelstudie en twee maal per kwartaal kom al die meisies bymekaar vir huisgodsdiens. Die seuns het ‘n weeklikse byeenkoms waartydens hulle ook saamsing tot lof van God.
TARIEWE
Koshuisgelde word jaarliks aangepas en is dan aan die begin van elke kwartaal betaalbaar.
REËLS EN REGULASIES
Hiermee oorhandig ons aan elke kosganger in Voortrekkerkoshuis 'n stel basiese reëls wat stiptelik en onvoorwaardelik nagekom moet word. Indien daar enige reëls is wat nie duidelik is nie, moet kosgangers
asseblief nie huiwer om dit met die huisouers te kom bespreek nie.
Dit word vertrou dat die verblyf in hierdie koshuis baie aangenaam sal wees en dat, wanneer die kosgangers die dag die koshuis verlaat, hy/sy met vreugde daaraan sal terugdink as 'n baie aangename deel van sy/haar lewe. Kom laat ons as 'n huisgesin lekker saamwoon en laat elkeen van ons sy/haar deel doen om dit vir mekaar aangenaam te maak.
Verbreking van die reëls word in ‘n baie ernstige lig beskou en daar sal streng opgetree word in sulke gevalle:
ALGEMEEN
1. Die leen en uitleen van klere is streng verbode. “Leen” sonder toestemming word as diefstal
beskou. Diefstal is strafbaar met permanente skorsing. Die leen van geld word ook ten
sterkste afgekeur.
2. Rook, dwelm- en drankgebruik en/of die besit van sulke middels, of die houers daarvan, is streng verbode, beide op en van die skoolterrein. Oortreders sal dissiplinêr verhoor word en moontlik geskors word.
3. Afwesigheid uit die koshuis sonder die toestemming van die huisvader of ‘n personeellid sal meebring dat die oortreder gestraf word en moontlik geskors kan word. ‘n Eerste oortreding kan ‘n vyf-dae-skorsing meebring, terwyl ‘n daaropvolgende oortreding met permanente skorsing uit die koshuis gestraf kan word.
4. Enige fisiese aanranding, intimidasie, of verpligting van inwoners om ander opdragte uit te voer as die voorgeskrewe pligte, word ook as ‘n ernstige oortreding beskou wat ‘n dissiplinêre verhoor en moontlike skorsing kan meebring.
5. Alle redelike opdragte van die personeel, matrone of huiskomitee moet uitgevoer word.
6. Slegs matrieks mag radio/cd-spelers in hul kamers hê en mag musiek teen ‘n REDELIKE volume speel (d.w.s. dit mag nie buite hulle kamers gehoor kan word nie), behalwe gedurende studietye. Musiek mag nie by vensters uit na buite gespeel word nie. Matrieks mag nie ander inwoners toelaat om hulle musiekspelers te gebruik nie. ‘n Eerste oortreding van hierdie reël sal meebring dat die radio vir ‘n week weggeneem word en ‘n tweede oortreding sal veroorsaak dat dit permanent uit die kamer verwyder word.
7. Die studiesaal is ‘n permanente STIL GEBIED en mag nie as ‘n deurloop gebruik word nie.
Niemand mag tussen 15:30 en 17:00 in die studiesaal wees nie. Die gange word na stiltetyd
elke aand ook STIL GEBIEDE.
8. Geen rugbystewels en spykerskoene mag binne die koshuis gedra word nie.
9. Inwoners van die koshuis MAG NIE duimgooi nie.
10. Dagskoliere en/of oudinwoners word nie sonder toestemming van ‘n personeellid, met kennisname deur die huisvader, in die koshuis toegelaat nie.
11. Volle skooldrag/sportdrag word na alle amptelike sportbepalings gedra.
12. Waardevolle artikels (soos kameras, selfone en groot bedrae geld) word op eie risiko in kamers gehou. Duur sporttoerusting behoort ook te alle tye weggesluit te wees.
EETSAAL
Almal gaan die eetsaal met die gepaste respek en goeie maniere binne. Die kombuispersoneel sal met die nodige respek behandel word en basiese hoflikheid teenoor alle personeel word verwag. ‘n Tafelgebed sal voor elke ete gedoen word.
1. Toustaan vir kos:
• Netjiese, ordelike rye word gevorm met geen gestamp en stotery nie.
• Personeel, besoekers en matrieks mag na die voorpunt van rye beweeg.
• Inwoners moet kombuispersoneel bedank en te alle tye respekvol behandel.
2. Geraasvlakke:
• Geraasvlakke moet so laag moontlik gehou word in die eetsaal.
• By die aanhoor van die ghong/klok hou almal op met eet en absolute stilte volg.
3. Opruiming:
• Huiskomiteelede sien toe dat tafels opgeruim word.
• Alle tafels word na elke ete deur inwoners afgedek en opgeruim.
• As iemand gemors het, is dit sy verantwoordelikheid om self skoon te maak.
• Alle stoele word ingestoot en tafels skoon en netjies gelaat.
4. Ander:
• Geen messegoed of breekgoed mag uit die eetsaal verwyder word nie.
• Goeie tafelmaniere moet gehandhaaf word: niemand mag oor die tafel hang, met ‘n mond vol kos praat, of met die messegoed peuter of beduie nie.
• Niemand mag in die eetsaal rondloop, of oor die tafels heen skree nie.
• Na die dankgebed mag diegene wat nie klaar geëet het nie, dit vinnig en stil doen.
• Geen kos mag uit die eetsaal verwyder word nie.
• Inwoners mag hulle eie broodsmere en graankosse bring.
KAMERS
1. Almal moet dadelik opstaan en begin klaarmaak wanneer die opstaanklok lui. Beddens moet opgemaak en kamers aan die kant gemaak en gereed wees vir inspeksie.
2. Kaste moet netjies gehou word en gesluit wees wanneer nie in gebruik nie.
3. Ligte moet afgeskakel word wanneer daar niemand in die kamer is nie. Niemand mag met skakelaars peuter nie.
5. Daar moet streng by ligte-uittye gehou word en geen pratery word ná ligte-uit toegelaat nie. Niemand mag ná ligte-uit gaan tandeborsel nie. Toilette mag nie binne die eerste 30 minute ná ligte-uit gebruik word nie.
6. Geen naaklopery word in gange toegelaat nie. Gordyne moet toegetrek wees wanneer daar verklee word.
7. Geen handdoeke of kledingstukke mag oor of uit vensters gehang word nie.
8. Niks mag by vensters uitgegooi word nie.
9. Geen beddegoed (matrasse ingesluit), wat aan die koshuis behoort, mag te enige tyd uit kamers
verwyder word nie.
10. Dit is in jou eie belang om te verseker dat jou kas gesluit is en die sleutel, of kombinasie, op ‘n veilige plek gehou word.
SELFOONBELEID
Beide die koshuis en die skool neem geen verantwoordelikheid vir selfone of die veiligheid daarvan nie.
VERBODE TERREIN
Binne die koshuis is die volgende verbode terrein: kantore, personeelkwartiere, die musiekkamers (behalwe vir musiekleerders), ketelkamer, motorhuise, kombuis, linne- en wasgoedkamers, die brandtrappe, eetsaal (behalwe gedurende etenstye) en stoorkamers.
Die koshuis is verbode terrein gedurende skoolure. Inwoners word slegs met die toestemming van die huisvader , of die personeellid aan diens, en in besit van ‘n toestemmingsbrief in die koshuis toegelaat word. Tussen 15:00 en 17:00 word slegs matrieks in hulle kamers toegelaat.
STUDIE
Gedrag in die studiesaal:
• Die studiesaal moet te alle tye beskou word as ‘n plek waar ernstige akademiese werk gedoen word en dit is ‘n voorreg om hier te wees. Almal wat die studiesaal binnegaan, moet die eiendom en mense in die studiesaal respekteer. Inmenging met ander mense se reg op onderwys en studie word in ‘n ernstige lig beskou en sal ernstige gevolge hê.
• Geen rondhardlopery, grappies, speletjies of onnodige lawaai word in die studiesaal toegelaat nie.
• Daar mag nie rondgeloop en vrae gevra word gedurende studiesessies nie. In uitsonderlike gevalle mag die toesighoudende personeellid gevra word om hulp van hom/haar of ‘n ander
personeellid.
FIETSE
Fietse mag koshuis toe gebring word. Fietse moet egter op ’n sentrale punt gestoor word.
Beide die koshuis en die skool aanvaar geen verantwoordelikheid vir fietse of die veiligheid daarvan nie.
UITNEEM VAN LEERDERS
Ouers mag hul eie kinders uitneem gedurende weeksaande nadat die nodige toestemming verkry is. Leerders moet egter om 20:00 terug wees.
TYE
1. WEEKSDAE
06:15 Opstaanklok
06:40 Stiltetyd. Klaar aangetrek. Kamer netjies. Onderwyser aan diens doen inspeksie
06:50 Etensklok. Flink aantree
13:00 Middagete
14:10 Studieklok. Stiptelik om 14:15 aan die werk.
15:15 Studie verdaag
17:45 Etensklok. Netjies geklee - skoene - geen nat hare (dogters)
2. WINTER
18:25 Studieklok. Stiptelik 18:30 aan die werk
18:25 Buitedeure word gesluit
19:30 10 minute pouse
19:40 Studieklok. Stiptelik 19:45 aan die werk
20:45 Studie verdaag en “roll call”
21:00 Uitvee
21:15 Stilteklok. Onderwyser aan diens doen rondtes
21:30 Ligte-uitklok. Elkeen MOET in sy eie kamer wees en bly
3. SOMER
18:40 Studieklok. Stiptelik 18:45 aan die werk
18:40 Buitedeure word gesluit
19:45 10 minute pouse
19:55 Studieklok. Stiptelik 20:00 aan die werk
21:00 Studie verdaag en “roll call”
21:15 Uitvee
21:30 Stilteklok. Onderwyser aan diens doen rondtes
21:45 Ligte-uitklok. Elkeen MOET in sy eie kamer wees en bly
4. WOENSDAE
14:15 Bus vertrek dorp toe
15:15 Bus vertrek terug koshuis toe
15:30 Teken terug
5. EKSAMEN
Addisionele studiesessie tot 16:00
6. LAATSTUDIE
Teken in boek vir laatstudie - reël met onderwyser aan diens
Gr. 8 tot 22:00
Gr. 9 tot 22:00
Gr. 10 tot 22:30
Gr. 11 tot 23:00
Gr. 12 tot 23:00
REËLS
TIPES OORTREDINGS
BAIE ERNSTIG (Kat. C)
ERNSTIG (Kat. B)
MINDER ERNSTIG (Kat. A)